Skep moed, Bedienaar van die Woord!

As mede-arbeider in die koninkryk van God wil ek jou graag aanspoor en herinner aan Paulus se woorde aan Timoteus en veral aan Titus. In Titus 2 kom die aanmoediging oor die wyse waarop Titus teenoor lidmate moet optree, en dan hierdie woorde spesifiek aan die jong evangelis:

Stel jy self in alles ʼn voorbeeld deur goeie dade, onvervalste leer en waardigheid, gesonde en onaanvegbare prediking sodat ʼn teenstander beskaamd mag staan en niks slegs het om oor ons te sê nie.” Titus 2:7 en 8

Die rede vir hierdie optrede en so ook die optrede van die gemeente word verklaar in vers 11 waar die Heilige Gees openbaar:

 “Want die verlossende genade van God het verskyn vir alle mense, en voed ons op, sodat ons in hierdie bedeling verstandig en regverdig en godvresend kan leef, deur goddeloosheid en wêreldse begeertes te verwerp, terwyl ons uitsien na die salige hoop en glansryke verskyning van ons groot God en Verlosser, Jesus Christus – Hy wat Homself ter wlle van ons gegee het, om ons los te koop van alle wetteloosheid, en vir Hom ʼn eie volk as eiendom te reinig, wat ywerig is om goed te doen.”

Dan vervolg hy: “Praat oor hierdie sake met volle gesag, bemoedig en wys tereg. Moenie dat iemand op jou neersien nie.” Titus 2:11-15

As bedienaar van die Woord van die veelvuldige genade van God moet ons volhard in die geloof as voorbeeld vir die mense rondom ons. Ons voorbeeld kan egter net in navolging wees van die voorbeeld van Christus.

Onthou dan wat ons Here Jesus in Johannes 16:33 aan sy dissipels gesê het kort voordat Hy gevange geneem is:  “Dit het Ek vir julle gesê, sodat julle in My vrede mag vind. In die wêreld ervaar julle swaarkry, maar hou moed, Ek het reeds die wêreld oorwin.”

Deur ds Lourens Venter (VDM), Begrond medewerker

Luister na die bemoedigende boodskap en gebed deur ds Lourens Venter

Lees meer oor die Maandtema: Skep moed – Die Here is in ons midde – Begrond Instituut

Foto: Photo by Sixteen Miles Out on Unsplash