Skep moed, boerderygemeenskap

27  Maar Jesus het dadelik vir hulle gesê: Hou moed, dit is Ek, moenie langer bang wees nie.

– Mattheus 14:27

Ons is so gewoond daaraan om vir iemand wat swaarkry te sê: “Sterkte.” Dan bedoel ons dat iemand die krag sal hê om die situasie waarin hulle is te hanteer.  God leer ons dat sterkte van Hom af kom. Dit word vir ons baie mooi gewys deur Petrus se optrede toe die Here Jesus op die water loop in die stormwind.

Die sterk wind en die golwe word dikwels in die Bybel gebruik om ook die mens se moeilikhede in die lewe te omskryf. Petrus en die ander dissipels is in die moeilikheid. Die Here Jesus sê hier drie dinge om sy dissipels moed te gee.

Dadelik toe die Here sien dat hulle bang en kragteloos is, sê Hy vir hulle om moed te hou. Dit is belangrik om te onthou: nog voordat ons moeg en moedeloos word, is God alreeds daarop ingestel om ons te help.

  • Die Here beveel Petrus: “Hou goeie moed.” Dit beteken om moedig op te tree maar ook om moedig vas te hou. Ons vergeet baie keer dat om moed te skep ʼn opdrag van die Here is. Ons kan nie net moed skep nie; ons moet dit ook doen.  Soms voel ons dit is onmoontlik. Hoe moet ons moed skep as ons juis moedeloos is? Hoe moet ons die opdrag nakom as ons juis nie krag het om eintlik iets te doen nie?
  • Die tweede ding wat die Here Jesus sê, gee hierop die antwoord. Jesus sê: “Dit is Ek.”  Die Here leer ons dat ons kan moed skep omdat Hy is wie Hy is.  God is die Skepper. God is deur sy Gees konstant bestendig in ons midde. Die Here gee sy Woord as anker in ons lewe. Met hierdie uitspraak wys Jesus daarop dat Hy as die Woord van God verskyn. Dieselfde God wat vir Moses gesê het: “Ek is wat Ek is.” God se Naam is gebind daaraan dat Hy bestaan; dat alles uit Hom en deur Hom en tot Hom is.  God bestaan en is in staat om te doen wat Hy belowe. Die Here se nabyheid is ons troos. Die Here se direkte teenwoordigheid deur die Woord en Gees in ons lewe is die bron van ons krag. “Skep moed, dit is Ek.”  Die Here is in beheer. Te midde van hierdie woeste derde golf van Covid-19 hoor ons die Here ook vir ons sê: Skep moed – dit is Ek.  Die Here het nie weggeraak uit ons lewens nie. Die vloed van Covid gaan ons nie oorweldig nie. Ons moet moed skep: die Here is teenwoordig. Hy is naby sy kinders. Trouens, Hy woon deur sy Gees in hulle.
  • Derdens beveel die Here ons om nie bang te wees nie. As ʼn mens moed skep, as ʼn mens besef die Here is in beheer en naby ons, dan hoef ons nie te vrees nie. Ook dit is ʼn bevel: Moenie bang wees nie.

As boerderygemeenskap moet ons in die geloof ons oë op die Here hou. Hy regeer. Hy leef. Hy is hier naby ons deur sy Woord en Gees. Skep moed. Hou moed. Moenie bang wees nie. Die Here is naby.

Deur dr. Wikus Buys, uitvoerende direkteur van Begrond

Luister na die bemoedigende boodskap en gebed deur dr. Wikus Buys

Lees meer oor die Maandtema: Skep moed – Die Here is in ons midde – Begrond Instituut

Foto: Photo by Binyamin Mellish from Pexels