Skep moed, Noodpersoneel

53  Nadat hulle na die oorkant gevaar het, het hulle by Gennesaret aan wat gegaan en vasgemeer.

54  Toe hulle uit die boot klim, het die mense Hom dadelik herken.

55  Hulle het haastig deur die hele landstreek gegaan en die wat siek was op slaapmatte begin aandra na waar hulle gehoor het Hy is.

56  Waar Hy ook al in gehuggies of in dorpe of op plase gekom het, het hulle die siekes op die markpleine neergesit en Hom gesmeek dat die siekes selfs net aan die soom van sy bokleed kon aanraak. En almal wat Hom aangeraak het, is genees.

– Markus 6:53-56

As daar ooit ʼn stuk van Jesus se bediening was waar dit hemel op aarde was, is dit die geskiedenis van Jesus in Gennesaret waarvan ons in Markus 6:53-56 lees.

Gennesaret was ʼn vrugbare boerderydistrik langs die see van Galilea bekend vir sy skoonheid en vrugbaarheid. Dink jouself die skoonheid in, die vars lug, landbougewasse, vrugte en graan, skape en beeste. Gesondheid, vooruitgang. En Jesus – nadat Hy op die see geloop het, het daar aan wal gegaan.

Maar Gennesaret is nie die hemel nie.

Met Jesus se aankoms word Hy herken en mense begin om van regoor die landstreek hul siekes na Hom toe aan te dra. En waar Jesus ook al kom, in die gehuggies, dorpe en plase, word siekes neergesit, en Jesus word gesmeek om hulle te genees. Beelde wat ons ken, ongevalle wat vol is en sale wat oorloop  – pasiënte en hul nabymense wat na uitkoms smag.

Genesing gebeur nie outomaties nie. Selfs vir Jesus wat waarlik mens en waarlik God is, is genesing ʼn werk wat gedoen moet word. Ons sien dat die mense besef dat dit werk is in die feit dat hulle Hom gesmeek het. As ware God genees Jesus die mense op wonderbare wyse. Almal wat Hom aangeraak het, het gesond geword.

Dink jou dit in, Gennesaret is nie net ʼn vrugbare boerderydistrik nie. Met Jesus daar is dit ʼn plek waar siekte en die dood self wyk!

Miskien kyk mense na jou met verwagting. Dalk smeek mense jou. Miskien verwar mense jou met die Here en verwag van jou om die onmoontlike te doen.

En anders as Jesus wat as ware God oor oneindige middele beskik het om genesing te bewerkstellig, om ʼn hemel op aarde te maak, is jou middele beperk. Toerusting, kollegas, krag, energie, moed. Dis alles dinge wat kan opraak.

En tog, en tog, die Here Jesus Christus leef ewig as die groot Geneesheer
Hy heers oor lewe en die dood.
Hy herstel, Hy gee krag, Hy verkwik, Hy seën vir jou wat as geneesheer in sy voetspore volg.
Hy skenk wysheid, en geduld, Hy gee gawes en nuwe krag.
Hy help jou om mense te help om siekes te genees of in hul laaste uur by te staan.

Jou werk dien tot lof van sy heerlikheid. En soos Jesus self in Markus 6:46, voor alles wat in Gennesaret op Hom gewag het, alleen die berg opgegaan het om te bid. So gee Hy nou vir jou ʼn oomblik om te onthou waar jou krag vandaan kom.

Jou hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het.
Hy sal jou vandag naby wees en jou dra.

Deur ds. Nikolaas Pienaar, Begrond medewerker

Luister na die bemoedigende boodskap en gebed deur ds. Nikolaas Pienaar

Lees meer oor die Maandtema: Skep moed – Die Here is in ons midde – Begrond Instituut

Foto: Karolina Grabowska from Pexels