Skep moed, onderwysers

27  Reine en onbesmette godsdiens voor God en die Vader is dít: om wese en weduwees in hulle verdrukking te besoek en jou vlekkeloos te bewaar van die wêreld. – Jakobus 1:27

Geroepe onderwysers wat deur God toegerus is vir hulle werk, het deur die eeue groot invloed uitgeoefen op die koers van die geskiedenis. Die keuse wat ouers maak vir watter onderwysers hulle kinders moet onderrig, is een van die belangrikste keuses wat hulle ooit sal maak. Moet nooit die besondere plek wat jy inneem in die lewens van ander en in die raadsplan van God onderskat nie.

Daar is egter tans baie dinge wat jou moedeloos kan maak en oneffektief laat voel. Dalk die manier waarop onderwysowerhede jou behandel, of die ondankbaarheid van ouers, of die nood of die ongedissiplineerdheid van leerlinge en die ellende en buitengewone druk van die Covid 19-pandemie.

In Jakobus 1:27 praat die Here oor ware godsdiens: om om te sien na mense wat besondere nood ervaar, maar ook om jouself rein te bewaar. Jou diens aan ander (die kinders wat in jou sorg geplaas is) is ʼn integrale deel van jou diens aan God, maar jy kan maklik in die omstandighede van hierdie diens van jouself en jou eie geestelike welsyn vergeet.

Om te keer dat jy depressief word en verteer word deur jou omstandighede, fokus op die karaktereienskappe van God. Fokus op sy soewereiniteit: Hy alleen is in beheer van die verlede, hede en toekoms, op makrovlak maar ook op die vlak van die klein dingetjies van elke dag.

Hy het ʼn plan wat Hy dag vir dag uitvoer. Dit sluit alles in: die aangename en die pynlike. Wat dalk vir jou soos ʼn gemors lyk, is deel van ʼn fyn uitgewerkte goddelike plan wat God uitwerk ten goede van elkeen wat Hom liefhet. In die proses is die heilige God ook besig om jou te vorm na die volmaakte beeld van sy Seun Jesus Christus.

Fokus ook op die wysheid van God: Hy het al die antwoorde en Hy gee dit graag vir ons. Soek naarstiglik en biddend daarna en kry jóú wysheid in moeilike omstandighede by Hom, veral in sy Woord. Fokus op God se krag en liefde: ons word gekonfronteer met gebrokenheid op baie vlakke – ook in onsself. Kyk op: sien God se gewilligheid raak om die hulpelose te help en hulle in beproewing te versterk en krag te gee. Niks is buite beheer nie.

Deur prof Rikus Fick, rektor van Akademie Reformatoriese Opleiding en Studies (AROS).

Luister hier na die bemoedigende boodskap deur prof Rikus Fick

Lees meer oor die Maandtema: Skep moed – Die Here is in ons midde – Begrond Instituut

Foto: Photo by Element5 Digital on Unsplash