Skep moed, veiligheidspersoneel

4  want U is vir my ʼn skuilplek, ʼn versterkte toring teen my vyand.

5  Ek wil vir altyd in u tent vertoef, ek wil skuil onder die beskutting van u vlerke.

– Psalm 61:4-5 (Lees egter die hele psalm vir agtergrond)

Ons hoor in Psalm 61 hoedat Dawid in ʼn toestand van besondere vervreemding verkeer.  Of dit nou vir Saul of Absalom is wat hy vlug – daaroor kan ons nie seker wees nie – maar die effek van hierdie swaar beproewing op hom is ernstig:

  • Hy voel of hy van alles vervreem is, en dit voel of hy van die einde van die aarde af na die Here roep;
  • Sy hart, sy gemoed wil ineenstort;
  • En hy voel asof hierdie beproewing vir hom een te veel is.

In hierdie omstandighede weet Dawid dat die Here hom sal beskerm en bewaar en hy vind sy troos in die deugde van die Here.  Vier sleutelterme omarm sy sekerheid dat die Here ook hierdie beproewing sal omdraai en die omstandighede gunstig sal verander:

  • Die Here is sy toevlug.  Die woord herinner aan ʼn fort of ʼn skans, ʼn plek van veiligheid waar daar geen ware bedreiging is nie.
  • Die Here is ʼn sterk toring teen die vyand.  ʼn Toring simboliseer veiligheid omdat ʼn mens vanuit die toring reeds van ver die vyand kan sien aankom en dan begin om jouself en ander te beveilig.  Dus: ʼn simbool van veiligheid asook van aksie: om positief iets aan die omstandighede te doen.
  • Dawid wil in die tent van die Here vertoef: Hy wil opreg binne die teenwoordigheid van die Here leef en sy lewe voor die aangesig van die Here deurbring.
  •  Dit alles bring die sekerheid dat hy veilig by die Here is onder die skuilplek van sy vleuels.  Soos ʼn arend haar kuikens veilig hou onder haar vlerke, voel die gelowige hom tuis wanneer Hy besef dat die Here hom beskerm, bewaar en vir altyd by hom sal wees.

Vir elkeen wat beproef word, word die woorde van toevlug, toring, tent en vleuels ʼn wonderlike versekering van die Here se troue sorg:  In Christus is Hy ewig by ons, het Hy sy tent (tabernakel) onder mense opgeslaan, en is Hy werklik die toevlug waarin sy kinders kan skuil en rus. 

Elkeen wat dan afgemat staan voor die rots wat voor jou lê, vind jou troos in hierdie sekerheid en skep daarmee moed: selfs wanneer jy vervreem voel van die Here – dalk veral dan laat Hy jou nie vir ʼn oomblik aan jou eie lot oor nie.

Deur ds Jan-Louis Lee, Begrond medewerker

Luister hier na die bemoedigende boodskap en gebed deur ds Jan-Louis Lee

Lees meer oor die Maandtema: Skep moed – Die Here is in ons midde – Begrond Instituut

Foto: Photo by cottonbro from Pexels